Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (www.viva-afrikaans.org) het in 2015 ontstaan as ’n enkele navorsingsprojek wat net vyf jaar sou duur. VivA se vier stigtersmaatskappye is die ATKV, die Noordwes-Universiteit, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Hierdie stigtersmaatskappye het ingestem om fondse te bewillig om ’n droom te verwesenlik wat kan verseker dat Afrikaans oor twintig, vyftig en selfs ’n honderd jaar van nou af, steeds in sy hoë funksies sal kan fungeer.
VivA se droom is om ’n tegnologiese taalwêreld vir Afrikaans te ontwikkel. Hierdie droom word reeds gedeeltelik verwesenlik met onder meer ’n Taalonderrigportaal waar gebruikers toegang kry tot resente en gefundeerde beskrywings van die grammatika van die standaardvariëteit van Afrikaans. Hierdie grammatikas, naamlik die Algemene Afrikaanse Grammatika (AAG) en Afrikaanse Skoolgrammatika (ASG), word deur kundiges ontwikkel en deurlopend bygewerk. VivA beoog om ’n belangrike nuwe portaal vir die navorsing van die variëteite van Afrikaans, naamlik ’n Variasieportaal, tot die Taalonderrigportaal by te voeg.
In Maart 2023 verskyn daar ʼn meningstuk op ʼn bekende platform waarin kommer uitgespreek word oor die stand van Afrikaans se digitale voetspoor – veral wat Afrikaanse letterkunde betref. Dit was opvallend dat daar nie in hierdie meningstuk melding gemaak is van ʼn enkele bestaande digitiseringsprojek in Afrikaans nie.
Ja, as taalliefhebbers en -foendies wat ons brood en botter in Afrikaans verdien, is ons ook bekommerd oor die verlies aan Afrikaans se literêre erfenis wat soms in biblioteekkelders muf, verpulp word of tot as gereduseer word wanneer biblioteke afbrand. Nietemin besef ons keer op keer dat daar wel daadwerklike pogings tot digitisering in Afrikaans aangewend word en dat sommige instansies, projekte en privaat persone ʼn reuse-invloed op die digitale voetspoor van Afrikaans het, en daarmee saam die bewaring, toeganklikheid en langlewendheid van Afrikaans as toekomstaal.
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (www.viva-afrikaans.org) het in 2015 begin as ’n enkele navorsingsprojek wat net vyf jaar sou duur. Soos wat VivA se gebruikers toegeneem en ons produkaanbod in ’n wye verskeidenheid taalbehoeftes begin voorsien het, het VivA se direksie en personeel ook besef dat hierdie projek baie groter is as wat ons aanvanklik gedink het.
In die byna nege jaar wat VivA se digitale deure oop is, het soveel mense hulle drome vir Afrikaans met ons gedeel en geglo dat ons van die drome ’n realiteit sal kan maak. Een so ’n persoon was professor Oppel Greeff, voormalige VivA-direksielid wat die stigtersmaatskappy, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, verteenwoordig het. Sy droom vir VivA Afrikaans was om intern ’n uitgewery te begin. Die rede hiervoor was eenvoudig en baie sinvol: Skep ’n addisionele inkomstestroom vir VivA as ’n maatskappy sonder winsoogmerk, maar hou ook aan om inhoud in Afrikaans beskikbaar te stel. Die ander direksielede het die voorstel beaam. Hierdie gesprekke het al in 2016 plaasgevind, maar VivA is ’n digitale maatskappy en dit het op daardie stadium nie moontlik gelyk met die tegnologiese mandaat wat ons het nie. Ons het professor Oppel se voorstel nietemin steeds in gedagte gehou.
Wêreld-hardopleesdag word jaarliks op die eerste Woensdag van Februarie gevier. Hierdie dag het ten doel om mense saam te bring deur hul gemeenskaplike liefde vir lees (Scholastic n.d.). In samehang met Internasionale Storievertellingsweek, wat vanjaar vanaf 30 Januarie tot 6 Februarie gevier word, dien dit as ’n herinnering van die impak wat hardoplees (en dan ook storievertelling) op individue, gemeenskappe en die wêreld as ’n geheel kan hê. Volgens die geletterdheidskenner Pam Lynne is stories, hetsy dit vertel of gelees word, die mens se grootste hulpbron, omdat stories mense bemagtig om sosiale verandering te weeg te bring (LitWorld n.d.). Hoe word sosiale verandering meegebring? Stories skep ’n ruimte waar leerders kan reflekteer, en die gevolg van hierdie refleksie oor onder andere hul identiteit, hul sterkpunte en hul drome lei tot ’n noemenswaardige verskil in hul lewens, waarvan die effek weer in die gemeenskap waarneembaar kan wees (LitWorld n.d.). Daarom word daar gepoog dat elke individu in die meer as 173 deelnemende lande wêreldwyd op Wêreld-hardopleesdag ’n boek moet gryp, ’n gehoor moet vind en hardop moet lees om die krag van lees te vier, bande in die gemeenskap te smee en die belangrikheid van geletterdheid as ’n basiese mensereg te benadruk.