profile pic

Deund, wrik, hekel en snert

Vrydag, 14 Junie 2019 Geplaas deur Jana Luther

fossielWat het die volgende woorde met mekaar gemeen? Ondeund. Onwrikbaar. Ontluik.

Wel, eerstens is al drie komplekse woorde. Dit is woorde wat uit meer as een woorddeel bestaan. (Morfoloë, wat die vorm en konstruksie van woorde bestudeer, noem sulke woorddele “morfeme”.)

profile pic

Dié "die" is die opsionele "die"

Donderdag, 06 Junie 2019 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Vra Jakkie Groenewald die afgelope week: “Ek het nog altyd ‘op die hoogte van sake’ gebruik, maar ‘op hoogte van sake’ blyk deesdae meer algemeen te wees. Is dit korrek/aanvaarbaar?”

Die kort antwoord is dat albei aanvaarbaar is. Die langer antwoord is natuurlik die interessanter ene – ten minste vir my en die ander agies.

Ons kan so half informeel en niewetenskaplik sê dat Afrikaans tradisioneel ʼn “lidwoordtaal” is. Dit is maar gewoon ʼn manier om te sê dat Afrikaans in die verlede lidwoorde in segswyses ingesit het waar ʼn taal soos Engels dit dalk nié sou doen nie.

profile pic

Pampoen tot pampoesie

Maandag, 03 Junie 2019 Geplaas deur Jana Luther

pampoen“Aanskou hierdie pampoen. Die helder, klewerige diamantdruppeltjies sit nog aan die stingel waar jy hom gesny het. Mooi woord, ‘pampoen’. Dis so pammerig en poenerig. Dit voel sommer swaar.” So begin Marthinus Versfeld se ode aan die pampoen in Borde, borde, boordevol, Hennie Aucamp se versameling essays en verhale oor kos.

Ligvaal, wit en donkergroen, goudgeel, oranjerooi. Gestoof, gekook, gebak, gebraai. Of kaboe gaargemaak – net so in die skil (nes kaboeaartappels of -patats).

Eet jou pampoen, dit laat jou hare krul, het die ou mense gesê.

profile pic

E-penvriende, die wag was toe nie verniet

Vrydag, 24 Mei 2019 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Toe ek nog vir kinners was, had ons penvriende. Ek kan nog onthou dat ek met twee mense gekorrespondeer het: ene in Duitsland, ene in Mauritius. Jy skryf ʼn brief op baie ligte papier (want anders word dit duur), bespuit die ding met jou deodorant en stuur dit dan per poskantoor. Dan wag jy weke om ʼn antwoord te kry …

Tot my skaamte moes van my moderne e-penvriende selfs maande wag op taalantwoorde. Nou rits ek sommer ʼn klomp so agter mekaar in. “Oop briewe” is mos deesde vreeslik modieus …

profile pic

Tja, tja! gie-gie, hegge-hegge, hêê!

Vrydag, 17 Mei 2019 Geplaas deur Jana Luther

lagHoe lag ’n mens in Afrikaans? Of liewer: “Hoe moet ek in skriftelike Afrikaans korrek lag: Haha, Hahaha, Ha-ha, Ha-ha-ha, Ha ha, Ha ha ha, Bwahahaha ...?” So vra Hennie onlangs op Facebook.

Lol. Die klem op korrektheid hier laat my glimlag en ek wil nog –

Maar die ywerige Taaltameletjieraadgewers het Hennie klaar na reël 12.14 van die AWS verwys: “Reduplikasies waarvan die dele identies is, asook afleidings en fleksievorme daarvan, word met ’n koppelteken geskryf”: “fluit-fluit”, “plek-plek”, “staan-staan”, “’n-’n”, “t-t-t” ...

Ook “ha-ha-ha”, dus. Soos Huisgenoot glo skryf. “Ook so geleer – met ’n uitroepteken,” beaam Bloemfontein se Skrywersvereniging.

Ha-ha-ha! Vir hoeveel soorte lag (beleefd, boos, kinderagtig, sarkasties, slu, spottend, stout, verveeld, verleë, ...), wonder ek, deug dié “bo-opse lag”, soos Langenhoven sou sê? Sou hy ook in sy vuis gelag het (in sy mou sou glo anglisisties wees), want lag kom tog nie altyd uit die maag nie?