profile pic

Ontmoet ons uitblinkers - VivA-beurshouers 2018

Vrydag, 23 Maart 2018 Geplaas deur Sophia Kapp

VivA het hierdie jaar weer studiebeurse toegeken aan topstudente dwarsoor die land wat in hulle derde- of honneursjaar in Afrikaanse taalkunde spesialiseer. Ons is baie trots op ons beurshouers en spog graag so ʼn bietjie met hulle in hierdie blog.

kinders

In die middel is Carla Lindt, en dan kloksgewys van bo links: Nicolette Harmse, Monique Rabé, Anneke Luijk, Cherylee Frantz, Amoré Blignaut en Roné van Wyk.

profile pic

Dié vroue was reuse in taal se ontwikkeling

Sondag, 18 Maart 2018 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

ʼn Leemte in die geskiedskrywing oor Afrikaans is die rol wat vrouetaalkundiges in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel het. Na my wete en snuffele is daar nog geen navorsing oor dié onderwerp gedoen nie, in teenstelling met navorsing oor die rol van literatrises (!) en ander vrouebydraers in die ontwikkeling van Afrikaans.

Anna de Villiers kan as die eerste regte-egte Afrikaanse vrouetaalkundige beskou word. Sy was ʼn merkwaardige vrou wat reeds in 1927 by die Buro van die WAT as assistent aangestel is en later ook as die eerste vroueredaksielid van dié woordeboek. In 1934 behaal sy haar doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch, en haar proefskrif (Die Hollandse taalbeweging in Suid-Afrika) word in 1936 deur Nasionale Pers gepubliseer. By haar afsterwe in 1979 beskryf die destydse Oggendblad haar as ʼn “vroue-taalreus”.

profile pic

Rododendron of viooltjie? Albatros of sysie?

Maandag, 12 Maart 2018 Geplaas deur Jana Luther

In twee vorige blogs het ek oor klankekspressie geskryf. Dié soort waar ’n mens geluide wat jy hoor, met jou stem probeer naboots, wat klanknabootsing, of onomatopee, genoem word; en ’n tweede tipe, by woorde wat ’n bepaalde beweging of handeling aandui. As die spesifieke letters wat tot ’n woord saamgevoeg word, ’n betekenis van beweging oordra wat ook vasgevang word in hoe die woord klink, word daar na klankskildering verwys.

’n Derde vorm van klankuitdrukking, wat minder duidelik as onomatopee en klankskildering is, en waaroor hierdie laaste blog in dié reeks handel, is klanksimboliek. Om klanksimboliek, soos dit byvoorbeeld in ’n gedig voorkom, noukeurig te omskryf, is moeiliker. ’n Mens moet ook versigtig wees om jou dit nie te verbeel nie!

profile pic

Taalskatte laat tone en hare krul van plesier

Saterdag, 10 Maart 2018 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Kyk, as jy vir my wil vang, hoef jy nie ʼn wip te stel nie: Sê net vir my daar is iewers ʼn skryfbehoefte- of ysterwarewinkel, en jy kan my Simsonlokke met ʼn stomp skêr afskeer. Ek weet nie wat die bekoring is nie – dalk maak dit my verlang na kleintyd se speel in die stoor op ons plaas, of na my en my niggie se biblioteek-biblioteekspelery. (Ons het slegs één keer gewaag om dokter-dokter te speel; daarna moes ons noodgedwonge opgradeer …)

In ysterwarewinkels (oftewel “hardewarewinkels” vir die minder puriteinses onder ons) stel ek belang in die skroefietjies en moerietjies, die handvatsels en toiletsitplekke, houtdeure en -geure, verwe, gomme, tuinstelle, goggadoders, swembadware, lappe, tuinhandskoene en iets vir die honde. (By my om die hoek is nog so ʼn ouwêreldse ysterwarewinkel met twee ervare omies wat rooi voorskote dra en sleutels sny.)

In die ysterwaresupermarkte hou ek egter altyd links verby die Masjiene. Ek weet nie wat dit is nie, maar die Masjiene intimideer my. Byvoorbeeld: Ek het ʼn paar maande gelede ʼn elektriese skroewedraaier gekoop; tuis gekom het ek die skroewe van my splinternuwe vensterrame in hulle peetjie in verdraai; toe maar weer die ding gaan teruggee en so half-half gejok dat ek dit as ʼn geskenk vir iemand gekoop het, maar dat die persoon al ene het, baie dankie. Ek bly dus weg van die Masjiene.

profile pic

Sonneblomme of sonneblom - wat staan daar op jou land?

Donderdag, 08 Maart 2018 Geplaas deur Sophia Kapp

Kry vandag ʼn interessante navraag van ʼn gebruiker: Het ʼn boer ʼn land vol sonneblom of sonneblomme? Daar het ʼn gesprek ontstaan daaroor, hoor ek, en die ouer garde wat deelneem, sê dis enkelvoud, die jonger lede sê die meervoud is korrek.

Dis juis vir my interessant omdat die vraag so ʼn paar maande gelede by die Taalkommissiesitting opgeduik het, en ʼn hele komitee vol baie slim taalkundiges ʼn middag lank geredekawel het oor die antwoord. Wat vir my net een ding sê: Dis nie sommer ʼn ou hierjykwessietjie nie.