profile pic

As blink breine terselfdertyd eenders dink

Saterdag, 03 Februarie 2018 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Die afgelope week op Facebook skryf ek iewers in ʼn opmerking: “Ek glo nie in ‘naming and shaming’ nie, jy weet mos!”

Normaliter probeer ek tóg maar om vir sulke goed ʼn Afrikaanse ekwivalent te kry, veral as ʼn man nou so half op ʼn openbare forum loop staan skrywe. Ek is mos góéd groot gemaak (of soos vandag se jonges sal sê: Ek is ordentlik soos dit …)

In die geval van naming and shaming kry ek in al 73 digitale woordeboeke tot my beskikking gʼn enkele vertaalekwivalent vir dié bekende uitdrukking nie. Ek skryf hom toe maar so in Brits, keurig tussen aanhalingstekens.

Maar ek het baie slim en kreatiewe vriende …

profile pic

Taalsuiwerheid – die plek van die standaardvariëteit

Donderdag, 01 Februarie 2018 Geplaas deur Sophia Kapp

Verlede week het ons vinnig gekyk na die terminologie wat in ʼn gesprek oor taalsuiwerheid van toepassing is. Die belangrikste beginsel wat jy uit dié bespreking moes wys word, is dat geen taal netjies in ʼn blik pas nie. Enige taal se sprekersgemeenskap is ʼn losse mengsel van moedertaal-, tweedetaal- en vreemdetaalsprekers, van oumense en tieners, van geleerdes en gewones, van vaandeldraers en knutselaars. Almal het die reg om deel te wees van die taalgemeenskap, en almal se bydrae, hoe krom en skeef dit nou ook al mag lyk, is belangrik.

Afrikaans is geen uitsondering nie. Taalkundiges is al dekades lank besig om die variëteite van Afrikaans te bestudeer, en Afrikaans.com, die ATKV, VivA en die WAT doen baie moeite om taalskatte uit die variëteite op te teken. Dit is vir ons almal interessant en bemoedigend, want dit wys vir ons dat die taal sprankel en woeker en leef.

Maar waar pas Standaardafrikaans dan in hierdie prentjie in? Wat is die funksie daarvan, en hoe moet ʼn mens dink oor die feit dat (slegs) Standaardafrikaans op skool in taalkundeklasse aan leerders oorgedra word? Is dit nie ʼn bietjie hovaardig om een variëteit bo al die ander te "verhef" en dit aan die sprekers van variëteite voor te hou as die ideale vorm van die taal nie?

profile pic

Dra daai louere – moenie op hulle rus nie

Dinsdag, 30 Januarie 2018 Geplaas deur Jana Luther

As ’n mens iets of iemand loof, dan prys en bewonder jy die ding of persoon. Dan keur jy hom of haar goed. As ’n paartjie aan mekaar verloof raak, keur hulle mekaar goed. As twee mense hulle aan mekaar verloof, gee hulle mekaar verlof, goedkeuring, toestemming, verskaf die een die ander plesier.

 

In Middelnederlands, waaruit Afrikaans ontwikkel het, was beloven en verloven afleidings van loven, wat ‘aanneem’ en ‘goedkeur’ beteken het, en ook ‘om te prys’. Uit die werkwoord beloven is die naamwoord belofte gevorm, ook na die model van gelofte.

 

Afrikaans kry sy werkwoord loof dus van Middelnederlands. In die Ou(er) Nederlands van omstreeks die jaar 900 was loof lovon, in Oudhoogduits loben, in Oudengels lofian en in Oudnoors lofa. Hierdie woorde is almal van die naamwoord lof afgelei, wat verwant is aan lief en wat en op sy beurt kom van die Oergermaanse luba- of lubō, waarin ook die oorsprong lê van die Engelse love 

profile pic

Kaplaks! loop sy in die ruit vas

Sondag, 28 Januarie 2018 Geplaas deur Jana Luther

In my vorige blog het ek oor klankekspressie begin skryf. Dié soort waar mense klanke wat hulle hoor, met hulle stemme probeer naboots: die geluide van diere, voëls, insekte, selfs plante. Dié soort klankuitdrukking, die eerste van drie tipes waarby ek stilstaan, word klanknabootsing, of onomatopee, genoem. Daaroor nou ’n entjie verder, want dis nie net lewende wesens en plante wat mense met hulle stemme namaak nie.

Laas het ek na die onomatopee in die naam van die Pondolandse dorpie Lusikisiki verwys, die geluid van die wind wat waai deur gras en riet. Hier is nog een: Ixopo. Die naam van die dorpie wat geleë is aan ’n sytak van die Mkhomazirivier in die middelland van KwaZulu-Natal. Ixopo, wat met die laterale suig-klap-klank van die tong wat teen die verhemelte vassuig en laat los, die plas-plof-geluid laat hoor van ’n bees wat sy poot uit modder lig. 

profile pic

Neem knypie sout maar met 'n knippie sout

Saterdag, 27 Januarie 2018 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Sommige “nuusfeite” moet ʼn mens maar met ʼn knippie sout neem …

Maar wag! Is dit nie “met ʼn knypie sout” nie? Of ʼn “korreltjie sout”? Dalk ʼn “greintjie sout”? Watter een is korrek? En waar kom die uitdrukking vandaan? Daar is soveel fassinerende wetenswaardighede hieroor, ek is sommer lus en registreer vir ʼn doktorsgraad.

Die meeste Afrikaanse woordeboeke en bronne dui sonder enige twyfel aan dat dit “met ʼn korreltjie sout” is, waarvan DF Malherbe se Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme (1925) die oudste is wat ek kon opspoor. Ander resente bronne, waaronder die Kollokasiewoordeboek en Tweetalige voorsetselwoordeboek, stem volmondig saam dat slegs “korreltjie” korrek is.

Anton Prinsloo (in Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom) sê dit kan ʼn “knippie/korreltjie/greintjie sout” wees, maar Johanna de Wet (in Wat praat jy!) wil van “greintjie” niks weet nie: Sy erken slegs “knippie/korreltjie/knypie sout”. HAT sluit indirek by haar aan: Hoewel slegs “knippie/korreltjie sout” onder die lemma sout verskyn, staan daar elders in die HAT dat “knippie” en “knypie” sinonieme is.