profile pic

Nie almal kan hoofleiers wees nie: die ander werkwoorde in jou sin

Woensdag, 21 Mei 2025 Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten

In die blog “Hoofwerkwoorde: die hoofmeisie en hoofseun van die sin” is aangedui dat die term “hoofwerkwoord” ’n oorhoofse benaming vir twee werkwoorde is, naamlik selfstandige werkwoorde (oftewel leksikale hoofwerkwoorde in VivA se Afrikaansgrammatika) en koppelwerkwoorde. In hierdie blog is dié werkwoorde aan die hoofmeisie en hoofseun van die sin gelykgestel. Waar laat dit die ander werkwoorde dan? Hulle het ’n ondersteunende rol, net soos die res van die leerlingraadlede. 

 Niehoofwerkwoord1.png

profile pic

Die hoofwerkwoord: die hoofmeisie en hoofseun van die sin

Dinsdag, 22 April 2025 Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten

 

Daar bestaan die wanpersepsie op skoolvlak dat “hoofwerkwoord” ’n sinoniem vir “selfstandige werkwoord” is. In hierdie blog word hierdie wanpersepsie uit die weg geruim deur op die twee soorte hoofwerkwoorde te fokus.

Maar kom ons kyk net weer vir ’n oomblik na die metafoor wat in die titel van die blog voorkom. Waarom sê ek dat die hoofwerkwoord die hoofmeisie en -seun van die sin is?

  • Die hoofmeisie en -seun is die leerlingraadslede wat die grootste verantwoordelikheid het om dissipline onder die leerders te handhaaf. So ook het die hoofwerkwoord die belangrike verantwoordelikheid om aan te dui of ’n toestand, oftewel manier van wees ( “Hulle lyk kwaad”), of ’n handeling, oftewel ’n situasie wat gedurig verander en vorder (bv. “Die meisie lees ’n boek”), in die sin uitgedruk word.Leerlingraad.png
  • Die hoofmeisie en -seun ontvang hulp vanaf die ander leerlingraadslede; tog bly hulle in beheer. Net so is die hoofwerkwoord die werkwoord wat in beheer is, al word dit saam met ander werkwoorde gebruik om ’n bepaalde betekenis oor te dra. Dit is in beheer, omdat dit op sy eie in die sin kan staan én oorbly wanneer al die ander werkwoorde weggelaat word. Lees die volgende voorbeelde, en kyk watter werkwoord oorbly:
profile pic

Verken die indirekte (belanghebbende) objek

Woensdag, 02 April 2025 Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten

Wat is die indirekte objek?

Die indirekte objek (oftewel indirekte voorwerp) moet beskou word as ’n funksie (“werk”) wat deur ’n sinsdeel in ’n sin verrig word. Wat beteken dit, as ’n sinsdeel die funksie (“werk”) van ’n indirekte objek het? Dit beteken die volgende (Biber et al., 2018:49; Ponelis, 1979:206).

  • Dit is ’n sinsdeel wat ná werkwoorde[i] soos “bied”, “bewys”, “deel”, “gee”, “gun”, “leer”, “deel”, “dien ... toe”, “skuld”, “vertel”, “vergeef” en “wys” staan.
  • Dit is ’n sinsdeel wat tipies voor ’n direkte objek staan.
  • Dit is ’n sinsdeel wat die werkwoordgedeelte[ii] aanvul deur in die plek van X in Werkwoordgedeelte X direkte objek te gaan staan, waar dit betekenisgewys aandui wie iets, aangedui deur die direkte objek, ontvang, daarby baat of dit prysgee.
profile pic

Die klouerige koppelwerkwoord

Woensdag, 10 Julie 2024 Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten

Die Engelse vertaling van “klouerig” is “clingy”. Dit beskryf ons koppelwerkwoord so mooi. Anders as leksikale hoofwerkwoorde (op skoolvlak bekend as “selfstandige werkwoorde”) roep koppelwerkwoorde nie ’n beeld op wanneer hulle in isolasie (op hul eie) gebruik word nie. Wanneer net is gebruik word (bv. Sy is), verstaan ’n mens nie watter betekenis dit uitdruk nie, maar sodra ’n sinsdeel daarná gebruik word (bv. Sy is mooi), begryp ’n mens dat hierdie werkwoord op ’n toestand, ’n manier van wees, dui. Daarom is die eerste eienskap van koppelwerkwoorde dat dit klouerig is, want dit moet saam met ’n sinsdeel daarná gebruik word om ’n betekenis (‘toestand’) te kommunikeer. Dit moet met ander woorde aan so ’n sinsdeel “koppel”.

profile pic

Die verband tussen nasalering en vokalisering

Donderdag, 16 Mei 2024 Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten

Inleiding

Die terme nasalering en vokalisering is terme wat nog op skoolvlak gebruik word. Dit word in ouer bronne soos Afrikaanse klankleer: fonetiek, fonologie en woordbou (De Villiers, 1967) gebruik, maar in resenter bronne soos Anna Coetzee se Fonetiek (Coetzee, 2017) en prof. Daan Wissing se boekhoofstuk “Fonetiek” in Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (Wissing, 2017) word hierdie onderskeid nie getref nie. Daar word eerder slegs na nasalering verwys. Vokalisering is iets wat deel van hierdie proses is – iets wat hier onder duidelik na vore sal kom.