WELKOM BY TOP se KLASKAMERHULPMIDDELS

Dit is ’n platform waar VivA se Afrikaanse Skoolgrammatika (ASG) met behulp van verskillende hulpbronne vir die Afrikaanstaalonderwysersgemeenskap (dosente van Onderwysafrikaans, voornemende en praktiserende Afrikaansonderwysers, insluitend tuisonderwysers) ontsluit word. Verminder jou lyding met leiding oor skoolgrammatika (oftewel taalstrukture en -konvensies).
Maandag, 09 Junie 2025 16:45

Kitsfeite oor voegwoorde

Die klaskamerhulpmiddel Kitsfeite oor voegwoorde handel oor leestekengebruik saam met voegwoorde, asook situasies waarin die voegwoord "en" nie as ’n voegwoord gebruik word nie, maar as ’n ander woordsoort.

Donderdag, 05 Junie 2025 12:29

Kitsfeite oor bywoorde vir die eksamen

In hierdie hulpmiddel word kitsfeite oor bywoorde gegee; nie ’n uiteensetting van die soorte bywoorde nie. Hierdie kitsfeite handel onder andere oor die woordvormingsprosesse deur middel waarvan bywoorde gevorm word, watter bywoord "nooit", "nie" en "niks" is, ens. Skoolterme word gebruik, soos "bywoord van tyd". Om hierdie rede kan hierdie hulpmiddels deur Afrikaansonderwysers en Afrikaansleerders (veral dié in die Senior en VOO-fase) gebruik word. As jy ’n Intermediêre Fase-onderwyser is, kan slegs die kitsfeite wat op jou leerders betrekking het, uitgesoek word.

Vrydag, 09 Mei 2025 11:36

Van teks tot toets: Boublokke vir Vraestel 1

In hierdie aanbieding rus Marné Brosens, ’n vakadviseur verbonde aan die Overberg-distrik in die Wes-Kaap, Afrikaansonderwysers in die VOO-fase toe met strategieë om Vraestel 1 effektief saam te stel deur te fokus op:

  • die seleksie van geskikte tekste wat relevant en vlakgepas is;
  • die aanpassing van tekste om verskillende moeilikheidsvlakke te akkommodeer;
  • die sinvolle integrasie van kognitiewe vlakke in vraagstelling; en
  • die effektiewe aanwending van eksamenwoordeskat in assesserings.
Donderdag, 08 Mei 2025 12:38

Die verskil tussen "ken" en "weet"

Hierdie hulpmiddel kan deur EAT-leerders gebruik word om te bepaal wanneer "ken" of "weet" gebruik moet word.

Woensdag, 12 Maart 2025 13:11

Ontmoet die verskillende woordsoorte

Ontmoet die tien soorte woordsoorte wat op skoolvlak in Afrikaans Huistaal onderskei word. Die teikengroep van hierdie uitdeelstuk is laerskoolleerders. Hierin word dié leerders ook blootgestel aan VivA se gebruik van "naamwoord" as sinoniem vir "selfstandige naamwoord", en "adjektief" as sinoniem vir "byvoeglike naamwoord". 

Indien jy wil weet watter woordsoorte in VivA se Afrikaansgrammatika onderskei word, kan die uitdeelstuk "’n Plakkaat met ’n definisie van elke woordsoort gratis afgelaai word.

Woensdag, 15 Januarie 2025 16:42

Die Huis van Skryftekens

In hierdie uitdeelstuk word aangedui hoe die verskillende skryftekens gelykgestel kan word aan verskeie dele van ’n huis. Brei gerus hierdie uitdeelstuk uit met die teorie wat in die uitdeelstuk "Skryftekens in ’n neutedop" vervat is.

Dinsdag, 05 November 2024 08:09

Hoe onderrig ek die bedrywende en lydende vorm?

Hierdie PowerPoint kan in die klaskamer gebruik word om die bedrywende en lydende vorm te onderrig.

  • Die inhoud is van so ’n aard dat dit oor skoolfases heen en selfs vir verskillende taalvlakke (huistaalvlak en addisioneletaalvlak) gebruik kan word.
  • Kies dus die skyfies wat vir jou leerders relevant is.
  • Onderaan elke skyfie is notas. Gebruik dit om die les aan te bied - dit is jou onderrignotas.
  • Druk ook die STBOMP-tabel vir jou leerders uit om interaktiwiteit te bevorder.
Donderdag, 31 Oktober 2024 07:57

Direkte rede en leestekengebruik

In hierdie uitdeelstuk word aangedui watter leestekens in die direkte rede, ingevolge die reëls in die 2017-AWS, gebruik moet word. Die uitdeelstuk word afgesluit met ’n paar redes waarom die direkte/indirekte rede soms gebruik word. 

Woensdag, 02 Oktober 2024 10:42

Skryftekens in 'n neutedop

Hierdie uitdeelstuk is vir leerders vanaf die Senior Fase tot en met die VOO-fase saamgestel. Dit vat alles wat hulle oor skryftekens behoort te weet op een plek saam.

Dinsdag, 10 September 2024 13:24

Die gravisteken in woorde van vreemde herkoms

In hierdie uitdeelstuk word ’n aantal woorde van vreemde herkoms wat met ’n akuutteken geskryf moet word, gelys. Daarby word die betekenis van elke woord saam met ’n illustrerende voorbeeld gegee.

Dinsdag, 10 September 2024 13:20

Die akuutteken in woorde van vreemde herkoms

In hierdie uitdeelstuk word ’n aantal woorde van vreemde herkoms wat met ’n akuutteken geskryf moet word, gelys. Daarby word die betekenis van elke woord saam met ’n illustrerende voorbeeld gegee.

Dinsdag, 10 September 2024 12:33

Woordgroepe van vreemde herkoms

In hierdie uitdeelstuk word aangedui hoe bekende woordgroepe van vreemde herkoms volgens die 2017-AWS geskryf moet word. Daarby word die betekenis van hierdie woordgroepe gegee.

Woensdag, 21 Augustus 2024 17:13

Vermy die springmielies!

Die doel van die speletjie is om elke keer wanneer ’n terminologiekaartjie getrek word die opdrag daaroor korrek uit te voer, sodat soveel terminologiekaartjies as moontlik bymekaargemaak word. Die leerder of span met die meeste terminologiekaartjies wen.

Dinsdag, 09 Julie 2024 11:39

Sinstrukture in Afrikaans Huistaal: veelvoudige sinne

In hierdie uitdeelstuk word die eienskappe van veelvoudige sinne bespreek, en maklike toetse om veelvoudige sinne te identifiseer, word voorgestel.

Vrydag, 07 Junie 2024 13:40

Speel bingo saam met VivA

Gebruik die aflaaibare hulpmiddel “Bingokaarte” wat uit 40 bingokaarte bestaan. Die doelwit is om ’n reguit lyn deur ’n ry woorde (hetsy vertikaal, horisontaal of diagonaal) te trek. Hierdie speletjie kan gerus in die Grondslagfase en Intermediêre Fase gebruik word. Jonger leerders kan die woorde op hul bingokaarte “klank”, aangesien dit die leesstrategie is wat in vroeë grade gebruik word. Onthou om die instruksieblad af te laai en te bestudeer. 

Vrydag, 07 Junie 2024 13:28

Alfabetpas

Gebruik hierdie speletjie met vrug in die Grondslag- of Intermediêre Fase. Die doelwit is om soveel kere as moontlik “pas” te skree, sodat die leerder sy/haar aantal kaarte kan vermeerder en wen. Laai die instruksieblad, asook die speelkaarte af, en druk dit vir jou leerders uit. 

Vrydag, 07 Junie 2024 10:00

Letterklankpakket

Die letterklankpakket bestaan uit ’n letterklankvideo, twee pare letterklankflitskaarte en ’n letterklankmuurkaart. Die letterklankvideo, wat ’n uiteensetting gee van die verskillende alfabetletters en die klank(e) wat hulle voorstel, word omgeskakel in ’n reeks flitskaarte met kleurvolle prentjies om die inhoud van die video vas te lê, of om te fokus op sekere letters van die alfabet en woorde waarin dit voorkom. Om verder by te dra tot die vaslegging van die inhoud, vorm ’n letterklankmuurkaart in A1-, A2- en A3-formaat, in verskillende oriëntasies, ook deel van die pakket. Die pakket word elektronies in die vorm van aflaaibare en drukbare PDF-dokumente beskikbaargestel. Gratis speletjies, naamlik Alfabetpas en Bingo, kan boonop in Klaskamerhulpmiddels afgelaai word.

Maandag, 03 Junie 2024 13:57

Sinstrukture in Afrikaans Huistaal: enkelvoudige sinne

In Afrikaans kan ons sinne op verskillende maniere gestruktureer (of saamgestel) wees, en op grond daarvan kry ons verskillende sinstrukture, naamlik enkelvoudige sinne, veelvoudige sinne en saamgestelde sinne. In hierdie uitdeelstuk word die eienskappe van enkelvoudige sinne bespreek.

Woensdag, 08 Mei 2024 12:11

Woordeskatontwikkeling

Druk hierdie bladsy uit, en gebruik dit wanneer jy nuwe woordeskat teëkom. In die eerste blokkie word die onbekende woord/uitdrukking geskryf. In die tweede blokkie word die woord/uitdrukking gedefinieër (woordeboekgebruik word aangemoedig). In die derde blokkie word aangedui hoe hierdie konsep met die leerder se lewe verband hou.

Woensdag, 08 Mei 2024 11:52

Hoe verskil die koppelwerkwoord "is" en "word"?

Hierdie klaskamerhulpmiddel is gemik op onderwysers wat Afrikaans Addisionele Taal onderrig en wonder hoe ’n mens vir leerders die verskil tussen die koppelwerkwoorde "is" en "word" kan verduidelik. Laai sowel die instruksieblad as die hulpmiddel af.

Woensdag, 10 April 2024 15:38

Oorganklike en onoorganklike hoofwerkwoorde

Op skoolvlak word daar tussen hoofwerkwoorde wat oorganklik en onoorganklik gebruik word, onderskei.

In hierdie uitdeelstuk word aandag aan die volgende kwessies gegee:

  • Wat is oorganklike hoofwerkwoorde?
  • Wat is onoorganklike hoofwerkwoorde?
  • Kan werkwoorde onoorganklik en oorganklik gebruik word, en waarom?
Maandag, 25 Maart 2024 13:33

Hoe kan ek poliseme (of polisemie as woordverhouding) aan leerders bekendstel?

In hierdie uitdeelstuk word aangedui hoe poliseme aan leerders bekendgestel kan word. Eenvoudige én gevorderde aktiwiteite word voorgestel. Die uitdeelstuk word met bykomende voorbeelde van poliseme afgesluit.

Donderdag, 22 Februarie 2024 11:19

Woordverhoudings in Afrikaans

Woorde staan in ’n sekere verhouding tot mekaar. As ons meer hieroor leer, verstaan ons beter waarom taal op ’n sekere manier gebruik word. Laai die hulpmiddel "Woordverhoudings in Afrikaans" af, gebruik dit as notas tydens onderrig, plak dit in jou leerders se boeke as aanvullende leermateriaal, of integreer dit in jou bestaande skyfiereekse met die nodige erkenning aan die Virtuele Instituut vir Afrikaans.

Woensdag, 17 Januarie 2024 17:01

Facebook-woordeskathulpmiddel

Gebruik die Facebook-woordeskathulpmiddel om nuwe woordeskat te onderrig. Die leerders kies ’n bepaalde woord of uitdrukking en skep ’n Facebook-profiel daarvoor. Deur byvoorbeeld iets in die afdeling “Meer oor my” te skryf, demonstreer hulle kennis oor hierdie woord/uitdrukking se betekenis.

Dinsdag, 05 Desember 2023 16:47

Die klikkiebek van Afrikaans

Een van die vrae wat dikwels gevra word, is wanneer tydsaanduidende en plekaanduidende woorde gewysig moet word wanneer die direkte rede na die indirekte rede omgeskakel word.  

In hierdie skrywe poog ek om dié vraag te beantwoord deur na die algemene vakliteratuur en die terugvoer van vakadviseurs te verwys. Ek sluit die uitdeelstuk af met voorbeelde van hoe die assessering van die indirekte rede effens aangepas kan word, sodat dit vir leerders duideliker is waarom bepaalde tydsaanduidende/plekaanduidende uitdrukkings in die indirekte rede moet verander.

Woensdag, 29 November 2023 07:15

Leesbegripvrae oor Mia en Miaau-Miaau, moles, manewales en monsters (deur Karen Loots)

Hierdie leesbegripboekie bevat kontekstuele vrae oor al die stories in Mia en Miaau-Miaau – moles, manewales en monsters wat deur Karen Loots geskryf is en in VivA-Uitgewers beskikbaar is. Daarby word volledige nasienriglyne aan die einde van die boekie voorsien. Selfs inkleurprente van die karakters word ingesluit!

Donderdag, 12 Oktober 2023 10:18

Werk met woorde: Selfstandige naamwoorde (naamwoorde)

Hierdie klaskamerhulpmiddel kan gebruik word om die naamwoord (oftewel selfstandige naamwoord) as abstrakte konsep in die klaskamer aan graad 4-leerders bekend te stel. Hoewel dit nie pertinent aangedui word nie, maak hierdie hulpmiddel voorsiening vir soortnaamwoorde (oftewel soortname op skoolvlak) en eienaamwoorde (oftewel eiename op skoolvlak), aangesien hierdie twee soorte naamwoorde in die graad 4-handboeke tot my beskikking ingesluit word.

Woensdag, 14 Junie 2023 16:39

Die verskillende woordsoorte van "niks"

In hierdie hulpmiddel word aangedui dat dieselfde woord (naamlik "niks") as verskillende woordsoorte gebruik kan word. Druk dit gerus uit, en deel dit met jou leerders.

Woensdag, 14 Junie 2023 14:59

Sinsbou: die onbepaalde voornaamwoord

Die onbepaalde voornaamwoord vorm op sy eie ’n sinsdeel, of dit verbind met ander woorde om ’n sinsdeel te vorm. Hierdie sinsdeel het verskillende funksies binne die sin.

Woensdag, 14 Junie 2023 14:54

Die verskillende woordsoorte van "al"

In hierdie hulpmiddel word aangedui dat dieselfde woord (naamlik "al") as verskillende woordsoorte gebruik kan word. Druk dit gerus uit, en deel dit met jou leerders.

Woensdag, 14 Junie 2023 14:50

Die verskillende woordsoorte van "wat"

In hierdie hulpmiddel word aangedui dat dieselfde woord (naamlik "wat") as verskillende woordsoorte of subkategorieë van ’n spesifieke woordsoort gebruik kan word. Druk dit gerus uit, en deel dit met jou leerders.

Donderdag, 01 Junie 2023 11:27

Die onbepaalde voornaamwoord in ’n neutedop: notas vir die Afrikaansonderwyser

Hierdie uitdeelstuk omvat al die inligting wat die Afrikaansonderwyser nodig het wanneer die onbepaalde voornaamwoord op skoolvlak onderrig word, vanaf die definisie van "onbepaalde voornaamwoord", na voorbeeldsinne en die voorstel van tipiese identifiseringstoetse.

Dinsdag, 02 Mei 2023 14:38

Onderskei wederkerende voornaamwoorde van ander woordsoorte

Het jy al ooit getwyfel of ’n woord ’n persoonlike voornaamwoord, ’n besitlike voornaamwoord, of ’n wederkerende voornaamwoord is. Die onderstaande toetse kan help om in so ’n geval ’n onderskeid tussen hierdie woordsoorte te tref.

Maandag, 27 Maart 2023 13:19

Variasie rakende vraende voornaamwoorde

In hierdie plakkaat bied ons 'n blik op variasie wanneer vraende voornaamwoorde gebruik word. Hierdie inligting is uit Van Schoor (1983) geneem, en al die voorbeelde wat gelys word, is werklike voorbeelde van taalgebruik wat uit Korpusportaal geneem is.

Woensdag, 22 Maart 2023 13:05

Sintaksisoorsigdokument

Vrydag, 17 Maart 2023 11:14

Idioomuitbeeldings

Op Internasionale Moedertaaldag het onderwysers die geleentheid gekry om idiome visueel op ’n kreatiewe wyse uit te beeld. Hierdie plakkaat is ’n opsomming van die onderwysers se uitbeeldings. Die plakkaat is ’n A0-grootte, maar dit kan ook as ’n A1- of ’n A2-grootte uitgedruk word.

Woensdag, 08 Maart 2023 16:25

Vraende voornaamwoorde wat anders gebruik word

In sekere konstruksies verskyn vraende voornaamwoorde nie aan die begin van ’n spesifieke vraagsin nie. Laai die hulpmiddel af om te bepaal waarom vraende voornaamwoorde op hierdie wyse gebruik word.

Donderdag, 26 Januarie 2023 17:54

Die funksie van voornaamwoorde in ’n neutedop

Dikwels moet leerders ritse soorte voornaamwoorde leer, maar ons versuim om vir hulle te verduidelik wat die funksie daarvan is. Hierdie uitdeelstuk vir gebruik in die klaskamer dien dié doel.

Vrydag, 09 Desember 2022 11:13

Werkkaarte

Afrikaansonderwysers! Met ons slimfoon-app “Woordeboekportaal” kan leerders vanlyn en gratis in woordeboeke naslaan. Ons het werkkaarte ontwikkel vir onderwysers van graad 8 tot 12 in Afrikaans Huistaal en Afrikaans Eerste Addisionele Taal waarmee hulle die app vir leerders kan illustreer. Laai gerus dié werkkaarte af, en moedig leerders aan om dié app in die klas en tuis in te span wanneer hulle huiswerk doen.

Taalwenke in plakkaatformaat

Jy kan nou VivA se maandelikse taalwenke gratis aflaai. Hierdie kreatiewe plakkate is netjies ontwerp vir enige klaskamer of kantoor en kan tot en met A2-grootte gedruk word. Laai gerus dié taalwenke hier af!

Maandag, 31 Oktober 2022 15:07

Woorde wat met "waar" begin

In hierdie video word voorbeelde van woorde wat met "waar" begin, gegee, naamlik "waarop", "waarmee", waarvan", ens. Die doel van die video is om aan te dui dat hierdie woorde herhaling uitskakel en ’n sin (spesifiek ’n bysin) inlei wat meer besonderhede oor ’n ander sinsdeel gee. Nie te veel metataal word in die video gebruik nie. Dit stel jou in staat om hierdie video selfs aan jonger leerders te vertoon. Laai hierdie video gerus af, en gebruik dit in jou klaskamer.

Vrydag, 30 September 2022 09:59

Die bywoord met ’n houding: ’n voorgestelde lesplan

In hierdie skrywe stel ek ’n lesplan voor wat gebruik kan word vir die onderrig van “bywoorde wat ’n betekenis van modaliteit kommunikeer” (soos wat daarna in VivA se Afrikaansgrammatikas verwys word) of “bywoorde van modaliteit” (soos wat daarna op skoolvlak verwys word).

Woensdag, 03 Augustus 2022 11:37

Vir watter span skree jy?

Hierdie aktiwiteit help leerders om op ’n samewerkende en prettige manier krities na te dink oor die betekenis van ’n woord, eerder as om voorsien te word van sinne waarin hulle bloot adjektiewe en bywoorde moet identifiseer. Die hulpmiddel wat vir die speletjie gebruik kan word, word aan die einde van die dokument voorsien. Dit kan uitgedruk en uitgeknip word. Alternatiewelik kan ander kaartjies ontwerp word na gelang van die vaardigheidsvlak van die leerders.

Dinsdag, 07 Junie 2022 10:37

Intensiewe vorme wat misleidend is

Gebruik hierdie video om te verduidelik dat woorde soos wawyd oop (en ook blakend gesond, roerend mooi, ontsettend ontstellend, ens.) nie adjektiewe is nie, maar bestaan uit ’n bywoord wat geïntensiveer is, gevolg deur ’n adjektief.

Donderdag, 19 Mei 2022 11:45

Die f-/v-rympie

Het jy al ooit gewonder hoe ’n mens die f-/v-reël op ’n kreatiewe, teoreties gefundeerde wyse kan onderrig? Die aangehegte hulpmiddel is op die nuutste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) gebaseer en dui op ’n prettige wyse aan wanneer die letters f en v gebruik behoort te word. 
 
Vrydag, 13 Mei 2022 10:08

Voegwoordelike bywoorde en voegwoorde in ’n neutedop

Daar word tans in die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) vir onderwysers verkeerdelik aangedui dat dandusdaaromnogtans en anders groep 2-voegwoorde is. In hierdie uitdeelstuk word verduidelik aan watter woordsoort sulke woorde wel toegeken behoort te word en wat die verskil tussen hierdie woorde en voegwoorde (bv. maaren en want; en sodatdatomdat en indien) is. Skandeer die QR-kode voor op die leerhulpmiddel, of klik op die YouTube-skakel in die regterkantste hoek. Met die video oor die eendjie en gansie kan hierdie onderwerp selfs aan leerders in laer grade bekend gestel word.

 (i) Hoe gebruik ek die QR-kode om die instruksionele video te kyk?

Opsie 1 (as jy die hulpmiddel op jou rekenaar oopmaak):

  • Gaan na die toepwinkel ("App Store") op jou foon, en laai die sagteware af. Maak die leerhulpmiddel op jou rekenaar oop, en skandeer die QR-kode met jou selfoon. Nou kyk jy na die video op jou selfoon.

Opsie 2 (as jy die hulpmiddel op jou selfoon oopmaak): 

  • Gaan na die toepwinkel ("App Store") op jou foon.
  • Maak die leerhulpmiddel op jou foon oop.
  • Vergroot die QR-kode, en neem ’n skermskoot ("screen shot") daarvan.
  • Gaan na die QR-kode-toep wat jy sopas afgelaai het, en klik op die ikoon bo wat lyk soos ’n bergreeks en wat binne ’n blokkie voorkom. Jy word nou geneem na jou gallery ("gallery") waar al jou skermskote en foto's gestoor is. Kies die skermskoot wat jy van die QR-kode geneem het. Die toep behoort nou vir jou drie opsies te gee: "open", "share" of "copy". Kies die oopmaakopsie ("open").

(ii) Hoe gebruik ek die YouTube-skakel om die video te kyk as ek nie die QR-kode wil skandeer nie?

Opsie 1 (as jy die hulpmiddel op jou rekenaar oopmaak):

  • Maak die hulpmiddel op jou rekenaar oop.
  • Gaan klik bloot op die skakel, of kopieer die skakel, en plak dit binne die webblaaier op jou rekenaar.

Opsie 2 (as jy die hulpmiddel op jou selfoon oopmaak):

  • Plaas jou vinger bo-op die YouTube-skakel en hou dit vir ’n rukkie, totdat die skakel verlig is. 
  • Kies dan om die skakel te kopieer. Gewoonlik behoort ’n ikoon soortgelyk aan die volgende een iewers te verskyn: ❐.
  • Maak jou webblaaier (bv. Chrome) oop, en gaan plak ("paste") die skakel binne die soekboksie deur jou vinger binne die soekboksie te druk. Sodra jy jou vinger weggeneem het, behoort die woord "paste" as opsie te verskyn. Kies "paste".
  • Klik dan op die relevante knoppie op jou selfoon se sleutelbord om aan te dui dat jy na hierdie skakel geneem wil word.

Kopiereg voorbehou:
Neem asseblief kennis dat hierdie produk die intellektuele eiendom van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is (© VivA 2022). Dit mag deur jou gebruik word, mits jy dit aangekoop het en aan VivA erkenning gegee word. Dit mag nie gedeeltelik en/of algeheel gedupliseer word en met ander gedeel word nie.
Vrydag, 06 Mei 2022 17:30

Wat is attributiewe en predikatiewe adjektiewe / byvoeglike naamwoorde?

Normaalweg word daar van leerders verwag om ’n adjektief (of byvoeglike naamwoord) as óf attributief óf predikatief te klassifiseer. Die idee word geskep dat dit twee soorte adjektiewe is. Toe nou nie ...
In die video word verduidelik wat eintlik met "attributief" en "predikatief" bedoel word.
Vrydag, 06 Mei 2022 09:15

Podsending: Hoe onderskei ’n mens tussen die soorte van ’n spesifieke woordsoort?

In hierdie podsending, spesifiek gerig op dosente van Onderwysafrikaans, onderwysstudente en Afrikaansonderwysers (insluitend nasorgonderwysers en tuisonderwysers), gesels Nadine Fouché-Karsten, VivA se onderwystaalkundige, met die eindredakteur van VivA se Afrikaansgrammatikas, prof. Adri Breed, oor die manier waarop VivA die soorte (of subkategorieë) woordsoorte definieer. Sy verduidelik ook hoe die onderrig hiervan op skoolvlak benader kan word.

Dinsdag, 22 Maart 2022 11:37

VivA se woordsoortdefinisies

In hierdie video, spesifiek gerig op dosente van Onderwysafrikaans, onderwysstudente en Afrikaansonderwysers (insluitend nasorgonderwysers en tuisonderwysers), word inligting gegee oor die wyse waarop VivA tussen verskillende hoofkategorieë of woordsoorte op hul klaskamerhulpmiddel "’n Plakkaat met ’n definisie van elke woordsoort" onderskei.

Maandag, 07 Maart 2022 12:18

Uitdeelstukke wat die kern van elke woordsoort opsom

Daar is ook 11 uitdeelstukke wat die kerninligting van elkeen van die woordsoorte opsom – iets wat uitgedruk en in leerders se boeke geplak sou kon word.

Hierdie uitdeelstukke is van so ’n hoë gehalte op die web gepubliseer dat dit uitgedruk en as “plakkate” in klaskamers gebruik sou kon word.

Vrydag, 04 Maart 2022 04:35

’n Plakkaat met ’n definisie van elke woordsoort

Hierdie leerhulpmiddel is ’n A0-plakkaat waarop die definisie van elke woordsoort gegee word – ook geïllustreer met voorbeelde.

Afrikaansonderwysers, as jy graag wil verstaan waarom ons ons definisies van die onderskeie woordsoorte op ’n sekere wyse geformuleer het, gaan kyk asseblief die nuttige, gratis, aflaaibare video wat ook op hierdie bladsy beskikbaar is. Die naam van hierdie video is "Die definisies van woordsoorte".

Vrydag, 04 Maart 2022 04:30

’n Plakkaat met ’n uiteensetting van die verskillende Afrikaanse woordsoorte en hul subkategorieë (soorte)

Hierdie A0-plakkaat gee ’n uiteensetting van die verskillende Afrikaanse woordsoorte (of hoofkategorieë) én die soorte (of subkategorieë) waarin elke woordsoort verdeel kan word, elkeen toegelig met voorbeeldwoorde.

Donderdag, 03 Maart 2022 22:25

Videomateriaal: inleiding tot woordsoorte

 

Die volgende kreatiewe, lewenswerklike video kan in die Afrikaansklaskamer gebruik word om woordsoorte aan veral jonger leerders bekend te stel.